Dis al amper ‘n volle jaar terug wat hierdie wêreld vir pragtige en talentvolle Carla Swart verloor het in ‘n fiets ongeluk. Carla, wat in die Verenigde State gewoon en studeer het (op ‘n sportbeurs vir hardloop en fietsry by Lees-McRae College), was deur ‘n vragmotor getref terwyl sy geoefen het op die Marquard pad in die Vrystaat. Barry Austin, die spanbestuurder van Fietsry Suid-Afrika wat die ongeluk sien gebeur het, vertel Carla het oor haar skouer gekyk oomblikke nadat sy haar fietsrekenaar verloor het. “Ek kon sien hoe die bestuurder van die vragmotor probeer rem het. Hy het selfs na regs uitgeswaai om die ongeluk te probeer vermy, maar dit was tevergeefs.” Carla het oppad hospitaal toe gesterf.
Carla het in haar kort lewetjie negentien individuele en spanfietsry titels gewen. Sy het die eerste fietsryer geword wat al vier Amerikaanse collegiale titels gewen het in een seisoen (2008) om nie eers te praat van die 2010 UCI Pad Wêreld Kampioenskappe en die Statebondspele in Oktober van daardie jaar. Net voor haar dood het sy kontrak geteken om vir HTC-Highroad te ry.
Een ding is duidelik, mooie Carla het voluit gelewe. ‘n Tipiese “I shall not die of a cold. I shall die of having lived” lewe. Helen Keller het gesê die wêreld is vol lyding, maar dis ook vol oorwinning. Sy het natuurlik nie na die dood verwys nie, maar vandag dink ek aan Carla se geliefdes en hul smart en ek hoop hulle vind oorwinnig daaroor.
Ons dink nog aan jou, Carla.