Amarider 50 Miler

(1) Ry padfiets teen Smitswinkel op sonder om te stop. Tick. (2) Ry padfiets saam met klub op ‘n 40km roete. Tick. (3) Ry padfiets saam met klub op ‘n 80km roete. Tick. (4) Val. Tick. (5) Neem deel aan my 1ste Burger Sanlam Fietstoer. Tick. (6) Neem deel aan my 1ste Argus. Tick. (7) Neem deel aan my 1ste Knysna Fietstoer. Tick. (8) Koop Bergfiets. Tick. (9) Val. Tick. (10) Val weer. Tick. (11) Val…breek iets…nevermind. Tick. (12) Neem aan 1ste paar kort bergfietstoere deel. (Wissel  tussen 10km en 20km). Tick. (13) Neem aan 1ste langerige bergfietstoer deel (80km). Tick.

Die laasgenoemde was die 50 Miler. Ek noem dit “langerig”, omdat dit een van twee bene was van die resies. Daar was ook ‘n 100 Miler (160km). Hoekom het ek deelgeneem? Wel, dit was maar net tyd vir die volgende uitdaging. Al het ek nie laaste gekom nie, sou ek se^ ek was by verre die swakste en onervare daar. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is baie trots op myself omdat ek dit kon voltooi (daar was heelwat deelnemers wat uitgeval het), maar ‘n mens weet mos maar wat jy weet.

Die roete was glad nie tegnies nie, maar daar was tog groot uitdagings. Die eerste paar minute was vir my ‘n nagmerrie en seker ‘n teken dat ek sommer daar moes stop. Ek het vasgeval in die modder a.g.v. lack of skill en het gekyk hoe al die fietsryers klein word in my sig terwyl ek myself en my fiets uit die gemors  moes kry. Ek was tot op my enkels in modder en moes my fiets uitdra. My moed was gelukkig nog nie heeltemal gebreek nie en ek het maar besluit om te chase. By die 1ste waterpunt het ek gelukkig al ‘n paar mense verby gevat en was ek nie meer so negatief nie. Teen die tyd het die modder begin droog word en my ratte het begin raas. Daar was nerens wat ek dit kon afspuit nie, want dis net plaaspad en meeste van die pad was ek maar alleen. Nie ‘n siel in sig nie. (SO anders as padresies – al waaraan ek regtig gewoond is). Het ek genoem my waterbottel was ook nou vol modder!

Op ‘n stadium het ek groot (en ek  meen GROOT) voetspore op die grondpad gesien. Snaaks wat ‘n mens dink as jy so alleen met jou gedagtes is vir so lank tydperk. Hierdie stadsmeisie het snaakse gediertes begin visualiseer. Onmoontlik, het ek gedink, kan dit ‘n hond wees – tog lyk dit soos ‘n hond se voetspoor…maar dis so groot! En daar, in die verte sien ek toe vir ‘ta’ draf en hoe nader ek aangery kom, hoe meer dink ek ek moet eerder omdraai. Dit was inderdaad ‘n verlore Great Dane. ‘n Prag van ‘n dier wat duidelik verdwaal het. En hy wou speel. En ek moet ry. Plus ek’s nogal skrikkerig vir hierdie reus…maar dit het my goed gehelp in die spoed afdeling, want ewe skielik het ek krag van erens af gekry en ‘n besonderse cadence opgewerk. Ek hoop maar hy het sy pad terug gevind, want ek is seker hy behoort aan een van die boere.

By die tweede waterpunt, het ek ‘n paar bekende gesigte gesien en so deur my stof- en modderbevlekte gesiggie, moes ek seker redelik verspot gelyk het met ‘n groot glimlag van verligting. Ek wou hulle sommer omhels en soen, maar daar was nie tyd nie. Camelbak is opgevul met water, piesang is afgewurg en weg was ek. Wat ek nie besef het nie, was dat die roete redelik ‘plat’ was tot op hede met vergeleke wat voorgele^ het. Berge en dale, mense. Op en af en net wanneer jy dink daar kan nie nog ‘n klim voorle^ nie, verskyn hy voor jou oe. Ek het naderhand gewonder hoeveel vals horisonne nog, maar dit het geeindig en soos die sadistiese roete beplanners dit maar altyd het, los hulle die moeilikste vir laaste. Weet hulle nie ek kan nie ordentlik single track nie! Veral nie met lam bene nie.

Die laaste klimmetjie huistoe, was ‘n plesier, danksy die toeskouers. Ek wou in trane uitbars. Daar het ‘n 100 Miler man verby my geskiet by die laaste draai, maar ek dink ek was blyer as hy om klaar te maak. Hy’t duidelik gejaag vir tyd. Ek, vir oorlewing!

Sal ek dit weer doen? Verseker. My kop sal dv ook reg wees volgende jaar, want ek sal weet wat om te verwag. Wie weet, dalk sien  ek  kans vir die 100Miler… Dankie Amarider. Danksy julle kan ek nog enetjie aftick. Nou vir my 1ste Double Century

Gevaarlike sport

Die onlangse dood van die 20-jarige Springbok lyfplankryer, David Lilienfeld, het my diep hartseer gelaat. Vir verskeie redes, maar die grootste rede is die onkundige en onsensitiewe kommentare wat gelos was by sommige van die artikels oor die tragedie. (Dieselfde verskynsel as wanneer fietsryers dood gery word).

Dit is so dat mense soms nie kan verstaan dat dit logies is/was vir ‘n bepaalde individu om deel te neem aan ‘n sekere [gevaarlike] sport nie, en dit kan ek verstaan, maar dat jy nie die feit dat mense verskillend geprogrameer is en dat ons as ’n spesie vir onsself verskillende sporte geskep het, kan respekteer nie; kwel my.

Risiko is inherent in die meeste aktiwiteite. In ander leefstyle ook. Dink maar bv. aan hartsiektes. Of jy nou rugby speel, skuba duik, golf speel, draf, fietsry, ‘n toeskouer is of buk om iets op te tel, aaklige dinge kan met enige iemand gebeur.

Ek gee toe, hoe intenser die aktiwiteit, hoe groter die risiko seker, maar sport is meer as fisies. Dis ‘n geestelike en sosiale verskynsel en ek sou se^ daarin le^ die grootste rede hoekom ons uitdagende dinge doen. Wat ookal die aantrekkingskrag, dit is anders vir almal. Dis inelkgeval ’n wetenskap wat ek nie te veel wil probeer analiseer nie, want vir my gaan dit oor die wenstreep, vir ‘n ander oor die ‘rush‘, maar vir David Lilienfeld het dit gegaan oor die volgende groot golf en ek respekteer hom daarvoor.

Stephen Hawking

Ook met verwysing na ‘n skrywe oor God wat ek so ruk terug gegriffel het.

Onlangs het ek oor Stephen Hawking gelees en dat hy glo die heelal en die “Big Bang” was ‘n onvermydelike gevolg van die wette van fisika. Hy’t onder andere gese^ dat omdat daar ‘n wet soos gravitasie is, kan die heelal uit niks geskep word. Spontane skepping is dus die rede hoekom die heelal en ons bestaan. Hawking is bekend vir sy werk oor black holes, kosmologie en kwantum swaartekrag. Hy’t ook gese^ “As ons ‘n volledige teorie ontdek, sou dit die uiteindelike triomf van die menslike rede wees…”  Hy is ‘n komplekse denker en daag gereeld die manier waarop baie wetenskaplikes na die wêreld kyk, uit. Hy is ook ‘n skerp kritikus van wat hy sien as onvoldoende wetenskaplike werk.

Hawking se bejaarde ma, Isobel Hawking, het oor hom gese^ ”Nie al die dinge wat Stephen sê is waarskynlik en moet as evangelie aanvaar word nie. Hy is ‘n soeker, hy is opsoek na dinge. En as hy soms nonsens praat, is dit ok, doen ons dit nie almal nie? Die punt is, mense moet dink en hulle moenie ophou nie, hulle moet probeer om die grense van hul kennis uit te brei, maar hulle weet soms nie eens waar om te begin nie. Jy weet nie waar die grense is nie, doen jy?”

Ek weet nie of ek saam met Stephen stem nie. Ek weet ook nie of ek nie saam met hom stem nie. Ek weet wel ek hou van sy ma.

Winter sadis

Ek verpes winter. Die naweek was Two Oceans in die Kaap en dit was koud. Vandag in besonder is weer vir my vrek koud en wanneer die Winter begin kopwys, begin my jaarlikse slegte bui. Dit hou gewoonlik die hele seisoen! Vanmore vra ‘n tannie vir my vir wat is ek so omgekrap oor die winter. Dis ‘n wonderlike seisoen vol trooskos en snoesige duvet’s en knetterende kaggelvuuraande. Dis gewoonlik die standaard antwoord oor winter – kos en knus, want ons is selfsugtig. Die lewe gaan eenvoudig oor onsself. Al wat ek kon dink is dat al daardie goed wat sy genoem het, irrelevant is vir ’n armlastige of ‘n straatbrak. Tot verdediging van die mens is winter nou maar nie iets wat ons gekies het nie. Winter is Natuur. Dis daar en meeste van ons (almal behalwe ek) probeer die beste daarvan maak, maar vir my is dit ‘n haatlike seisoen. Ek kan werklik net aan twee goed dink wat goed is oor winter, maar dis ook bloot selfsugtig…, en dit is modderige bergfiets tracks en rooi wyn. So, op daai nooit, Skål!

C’est la vie

“Ek verloor beheer. Ek gaan val! Ek gaan val!” Die Man van Staal (of eerder Steve Austin) was die titel vir die Afrikaanse oorgeklankte weergawe van The Six Million Dollar Man. Die program was uitgesaai op SA televisie in die 80′s en as kind het ek dit graag gekyk. Die intro tot sy televisie program beteken vir my vandag iets ietwat anders as toe, maar amper elke keer as ek van my fiets af val, dink ek terug aan die arme drommel en forseer ‘n glimlag oor die ironie van die lewe.

Niemand hou tog van val nie (of eerder niemand wat ek ken nie), maar vroeër of later, met kanse vat [lees 'met die lewe'], val ons almal. Party meer as ander. Ek kan nie help om oor die lewe te reflekteer wanneer ek so deur die woud fietsry nie en vind dit is wat dit is… Om te val is deel van ons lewenspaadjies, maar ons moenie dat dit – die moontlikheid bestaan dat jy kan val - jou stuit nie. Wat ‘n voorreg om te kan ‘ry’ so klim op daai fiets, ry die dag bloots en hou jou oog op die horison. Ek gaan.

Suur veralgemenings

Die samelewing is nou maar een maal ‘n biologiese skatkis en idiote is ook ‘n spesie en alle spesies het [ongelukkig] seker bestaansreg. Ek is oortuig daarvan ons maak kortsigtige veralgemenings van amper als onder die son en dis ons grootste probleem. Dit is mos so - om te veralgemeen is om ‘n idioot te wees. Dit is ‘n veralgemening. Gevolgtrekking: Ons is idiote. Dis ekstreem, maar tog hoop ek dat indien jy wel ook onder die kortsigtige-idioot-spesie val, jy ten minste die begeerte besit om dit te wil verander.

Van waar nou die suur gedagte? Wel, ek self voel soms soos ’n lopende teenstrydigheid, want vat nou maar ‘n onderwerp soos geslagskwessies. Soms (dalk oor ek so groot gemaak is) was ek aan die man se kant (die fundamentele probleem natuurlik dat kante gekies moet word, but stick with me here), want feministe is die klits kwyt – veralgemening 1. Soms (omdat ek ‘n vrou is en die ander kant kon sien) was ek aan die vrou se kant, want mans is almal dieselfde…(oh so vague an ’argument’…) - veralgemening 2. Ek hoop al hierdie ondervinding het van my vandag ‘n redelik objektiewe wese gemaak en is ek vandag aan die mens se kant – hetsy man of vrou, maar die feit bly staan, wanneer iets gebeur soos bv. ons verdwaal terwyl my man bestuur – klap my onderbewussyn hande en uit kom die veralgemenings.

Net vinnig op die feministe punt – nie vir een oomblik wil ek feministe kritiseer nie, want ons vergeet soms hulle stryd en hoe ver hulle gekom het ten opsigte van vroue regte as gevolg van daardie stryd. Ons [lees vrouens] skud ons koppies vir hierdie ‘lawwe’ vrouens, maar gaan trek dan lekker ons kruisies by die stemlokale. ‘n Voorreg wat ons het danksy daardie einste ‘lawwe’ vroue, maar die tyd het aangestap en ek kan nie help voel die tafels van kortsigtigheid het gedraai nie. Wat begin het as ‘n stryd vir vroue vir ‘n stukkie van die pastei a.g.v. die uitbuitende ondermyning van vroue en hulle deel van die kastige menseregte…, was lyk my ook ‘n teelaarde vir manlike wrokke en objektief gesproke, soms verstaanbaar. Dit het ge‘boomerang’ if you like. want jare later en ons sit met ‘n magsstryd in plaas van demokrasie en die blaam vir die patriargie word soms op vrouens se skouers gelê en voor enige een ‘n veroordelende vingertjie swaai, dink mooi en onthou hoe hierdie probleem begin het – daardie nare veralgemenings.

Be that as it may… Ek wonder soms of ons die relativisme kan erken – ons weet eenvoudig nie wat die waarheid is nie en ons veralgemenings stem uit daardie minderwaardigheid uit. Ons is die skeppers van ons eie vaal mites. Nou, voor enige een met my saamstem, moet ek jou vertel wat ek gereeld hoor en wat my oor die bogenoemde laat dink het. “Julle fietsryers…*vul veralgemening hier in*”. Nou ja, ek weet – ek moet self oor die algemeen probeer om nie te veralgemeen oor die veralgemeners nie, but heaven help me – ‘n swaap bly ‘n swaap.