(1) Ry padfiets teen Smitswinkel op sonder om te stop. Tick. (2) Ry padfiets saam met klub op ‘n 40km roete. Tick. (3) Ry padfiets saam met klub op ‘n 80km roete. Tick. (4) Val. Tick. (5) Neem deel aan my 1ste Burger Sanlam Fietstoer. Tick. (6) Neem deel aan my 1ste Argus. Tick. (7) Neem deel aan my 1ste Knysna Fietstoer. Tick. (8) Koop Bergfiets. Tick. (9) Val. Tick. (10) Val weer. Tick. (11) Val…breek iets…nevermind. Tick. (12) Neem aan 1ste paar kort bergfietstoere deel. (Wissel tussen 10km en 20km). Tick. (13) Neem aan 1ste langerige bergfietstoer deel (80km). Tick.
Die laasgenoemde was die 50 Miler. Ek noem dit “langerig”, omdat dit een van twee bene was van die resies. Daar was ook ‘n 100 Miler (160km). Hoekom het ek deelgeneem? Wel, dit was maar net tyd vir die volgende uitdaging. Al het ek nie laaste gekom nie, sou ek se^ ek was by verre die swakste en onervare daar. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is baie trots op myself omdat ek dit kon voltooi (daar was heelwat deelnemers wat uitgeval het), maar ‘n mens weet mos maar wat jy weet.
Die roete was glad nie tegnies nie, maar daar was tog groot uitdagings. Die eerste paar minute was vir my ‘n nagmerrie en seker ‘n teken dat ek sommer daar moes stop. Ek het vasgeval in die modder a.g.v. lack of skill en het gekyk hoe al die fietsryers klein word in my sig terwyl ek myself en my fiets uit die gemors moes kry. Ek was tot op my enkels in modder en moes my fiets uitdra. My moed was gelukkig nog nie heeltemal gebreek nie en ek het maar besluit om te chase. By die 1ste waterpunt het ek gelukkig al ‘n paar mense verby gevat en was ek nie meer so negatief nie. Teen die tyd het die modder begin droog word en my ratte het begin raas. Daar was nerens wat ek dit kon afspuit nie, want dis net plaaspad en meeste van die pad was ek maar alleen. Nie ‘n siel in sig nie. (SO anders as padresies – al waaraan ek regtig gewoond is). Het ek genoem my waterbottel was ook nou vol modder!
Op ‘n stadium het ek groot (en ek meen GROOT) voetspore op die grondpad gesien. Snaaks wat ‘n mens dink as jy so alleen met jou gedagtes is vir so lank tydperk. Hierdie stadsmeisie het snaakse gediertes begin visualiseer. Onmoontlik, het ek gedink, kan dit ‘n hond wees – tog lyk dit soos ‘n hond se voetspoor…maar dis so groot! En daar, in die verte sien ek toe vir ‘ta’ draf en hoe nader ek aangery kom, hoe meer dink ek ek moet eerder omdraai. Dit was inderdaad ‘n verlore Great Dane. ‘n Prag van ‘n dier wat duidelik verdwaal het. En hy wou speel. En ek moet ry. Plus ek’s nogal skrikkerig vir hierdie reus…maar dit het my goed gehelp in die spoed afdeling, want ewe skielik het ek krag van erens af gekry en ‘n besonderse cadence opgewerk. Ek hoop maar hy het sy pad terug gevind, want ek is seker hy behoort aan een van die boere.
By die tweede waterpunt, het ek ‘n paar bekende gesigte gesien en so deur my stof- en modderbevlekte gesiggie, moes ek seker redelik verspot gelyk het met ‘n groot glimlag van verligting. Ek wou hulle sommer omhels en soen, maar daar was nie tyd nie. Camelbak is opgevul met water, piesang is afgewurg en weg was ek. Wat ek nie besef het nie, was dat die roete redelik ‘plat’ was tot op hede met vergeleke wat voorgele^ het. Berge en dale, mense. Op en af en net wanneer jy dink daar kan nie nog ‘n klim voorle^ nie, verskyn hy voor jou oe. Ek het naderhand gewonder hoeveel vals horisonne nog, maar dit het geeindig en soos die sadistiese roete beplanners dit maar altyd het, los hulle die moeilikste vir laaste. Weet hulle nie ek kan nie ordentlik single track nie! Veral nie met lam bene nie.
Die laaste klimmetjie huistoe, was ‘n plesier, danksy die toeskouers. Ek wou in trane uitbars. Daar het ‘n 100 Miler man verby my geskiet by die laaste draai, maar ek dink ek was blyer as hy om klaar te maak. Hy’t duidelik gejaag vir tyd. Ek, vir oorlewing!
Sal ek dit weer doen? Verseker. My kop sal dv ook reg wees volgende jaar, want ek sal weet wat om te verwag. Wie weet, dalk sien ek kans vir die 100Miler… Dankie Amarider. Danksy julle kan ek nog enetjie aftick. Nou vir my 1ste Double Century…

